Lewende fossiel

Die selakant is 'n voorbeeld van 'n lewende fossiel.
Wollemia nobilis

'n Lewende fossiel is 'n dier wat vandag leef waarvan fossiele gevind is in strata wat fossiele van diere bevat wat na bewering miljoene jare gelede uitgesterf het.

Seker die bekendste voorbeeld van 'n lewende fossiel is die selakant: 'n Mens kry fossiele van die selakant in van die vroegste strata, maar nie in latere strata nie. Die ouderdom van selakantfossiele wissel van 380 tot 70 miljoen jaar en daarom is die vis as uitgesterf beskou.

Bekende voorbeelde is die brugakkedis, die koningkrap en die plant Ginkgo biloba. In enkele gevalle was die organismes reeds as fossiele bekend voordat daar lewende verteenwoordigers ontdek is. As gevolg van sulke ontdekkings is die inwendige struktuur en die gewoontes van diersoorte waarvan daar vroeër net fossiele beskikbaar was, nou bekend.

'n Paar diersoorte wat duidelik ou vorme is, maar waarvan daar geen fossiele beskikbaar is nie, word as vermiste skakels beskou, met ander woorde as 'n ontbrekende skakel tussen twee groepe waaruit afgelei kan word hoe die een groep uit die ander een ontwikkel het. Dit is egter meer korrek om van die direkte afstammelinge van vermiste skakels as van vermiste skakels alleen te praat.

Lewe, soos ons dit vandag ken het reeds meer as 3 600 miljoen jaar gelede ontstaan. Die eerste vorme was baie eenvoudig, maar mettertyd het al hoe meer komplekse vorme ontwikkel. Deur die proses van natuurlike seleksie bly die vorme wat goed by hul omgewing aangepas is, voortbestaan. Terwyl ander wat nie so goed aangepas is nie, uitsterf. Baie diere wat vroeër uitgesterf het is vandag aan die wetenskap bekend deurdat hulle skelette gefossileer (versteen) het en miljoene jare in sedimentere rotsformasies behoue gebly het.

Dit is as gevolg van hierdie fossiele dat die ontwikkeling van die plante- en diereryk oor miljoene jare in hooftrekke bekend is. In gevalle waar die omgewingstoestande 'n lang ruk dieselfde gebly het, het baie diere (en plante) hulle so by die omgewing aangepas (gespesialiseerd geraak) dat hulle uitgesterf het sodra die toestande verander het. Daar word vermoed dat dit met die groot reptiele (dinosouriërs, ensovoorts) in die Mesosoïkum (sowat 150 miljoen jaar gelede) gebeur het.

Twee tipes diere staan vandag as lewende fossiele bekend. Die een tipe (egte lewende fossiele) is diere wat reeds lank as fossiele bekend is en waarvan daar aanvaar is dat hulle uitgesterf het, maar waarvan daar onlangs lewende verteenwoordigers gevind is. Die ander tipe is diere wat reeds lank aan die wetenskap bekend is, maar waarvan alle verwante soorte reeds uitgestert het.

Dit is ou soorte, met ander woorde soorte wat oor 'n tydperk van miljoene jare geen verandering ondergaan het nie. Van die tweede tipe is daar heelwat meer soorte as van die eerste. Die bekendste lewende fossiel is die selakant (Latimeria chalumnae). Hierdie vis behoort tot die orde Crossopterygii (fraiingvinvisse) van die subklas Sarcopterygii (vlesige vinvisse), 'n orde waarvan daar aangeneem is dat dit ongeveer 70 miljoen jaar gelede al uitgesterf het.

Uit hierdie groep diere het alle landlewende vertebrata (werweldiere) deur die amfibieë waarskynlik ontwikkel. Die ontdekking van die selakant in 1938 in die Indiese Oseaan het dus 'n geweldige opskudding veroorsaak. Daar moet egter beklemtoon word dat die selakant self nie die voorouer van die amfibieë was nie, maar wel ʼn naverwante soort. Die eerste selakant is op 22 Desember 1938 in Oos-Londen aan wal gebring en deur prof. J.L.B. Smith van die Rhodes-Universiteit benoem. In 1952 is nog een naby die Comoro-eilande gevang en daarna nog ʼn paar in ander gebiede.

Nog 'n egte lewende fossiel is die manteldier Neopilina galatheae, wat in 1952 deur 'n Deense navorsingskip uit die diepsee gehaal is. Hierdie seeslak is onder die orde Monoplacophora geklassifiseer, weer eens 'n orde waarvan daar vermoed is dat dit lank reeds uitgesterf het. Fossiele van die Monoplacophora dateer hoofsaaklik uit die Kambrium tot die Devoon (600 tot 400 miljoen jaar gelede). Sedert die ontdekking van hierdie spesie is nog 'n paar spesies in die diepsee ontdek. Neopilina het, in teenstelling met ander manteldiere, tekens van segmentasie getoon, wat die vermoede versterk het dat die manteldiere uit die Gesegmenteerde Wurms ontwikkel het, of dat die wurms en die manteldiere uit dieselfde voorouer ontwikkel het. Seelelies (klas Crinoidea) is vroeër ook as egte lewende fossiele beskou omdat die diere net as fossiele uit die Paleosoïkum (600 tot 250 miljoen jaar gelede) bekend was.

In 1864 is lewende verteenwoordigers egter uit die Noord-Atlantiese Oseaan gehaal. Die groep is egter tot die diepsee beperk, en met verbeterde tegnieke is later heelwat seelelies gevind. Daar is vandag ongeveer 80 spesies bekend. Die boom Metasequoia disticha van die familie Taxodiaceae is ʼn goeie plantaardige voorbeeld van ʼn egte lewende fossiel. Die genus Metasequoia was net as fossiele uit die Mesosoïkum (230 tot 65 miljoen jaar gelede) bekend, maar in 1944 is 'n hele woud van hierdie bome in China ontdek.

Die ander groep plante en diere wat as lewende fossiele bekend staan, is organismes wat al baie lank bestaan sonder dat hulle noemenswaardige veranderings ondergaan het. Hulle toon meer ooreenkoms met uitgestorwe soorte as met lewendes. Seelelies kan as 'n voorbeeld van hierdie tipe beskou word. Die genus Lingula, wat algemeen langs kuste voorkom. is een van die laaste oorblywende genera van die phylum Brachiopoda. Ongeveer 30 000 spesies van hierdie phylum is uit die Siluur (425 tot 400 miljoen jaar gelede) bekend, terwyl daar vandag slegs ongeveer 300 spesies is. Nog 'n voorbeeld is die 600 oorlewende spesies Nautilus van die orde Nautiloidea, naverwant aan die seekat, maar met 'n spiraalvormige skulp.

Aan die einde van die Siluur (ongeveer 400 miljoen jaar gelede), toe die diere ontstaan het, het hulle 'n ongedraaide skulp gehad. Die vorm van die skulp het geleidelik verander totdat dit in die Perm (230 miljoen jaar gelede), toe die meeste Nautiloidea uitgesterf het, spiraalvormig was. 'n Baie bekende lewende fossiel is die koningkrap (genus Limulus), wat eintlik geen krap is nie maar nader verwant is aan spinnekoppe. Die dier vertoon eienskappe van ʼn uitgestorwe groep seeskerpioene, maar sy larwe toon 'n ooreenkoms met die Trilobita (baie ou, uitgestorwe Geleedpotiges), waaraan die koningkrappe egter nie verwant is nie.

Die klas Merostomata, waartoe die koningkrappe behoort, was volop in die Paleosoïkum (600 tot 225 miljoen jaar gelede). In daardie stadium was hul verspreidingsgebied baie wyer as die huidige tropiese kuswaters van Amerika en Asië. Die 6 spesies longvisse vorm die orde Dipnoi, wat tot dieselfde subklas as die selakant, die Sarcopterygii, behoort. Hulle is dus ook 'n baie ou groep en is interessant omdat hulle aan die een kant aan die selakant verwant is en aan die ander kant met die amfibieë ooreenkomste toon.

Daar is reeds genoem dat die amfibieë waarskynlik uit die Sarcopterygii ontstaan het. Nog 'n interessante voorbeeld is die brugakkedis (Sphenodon punctata) van Nieu-Seeland, wat in 1831 as nuwe soort beskryf is en later op grond van sy skelet by die orde Rhynchocephalia ingedeel is. Alle ander verteenwoordigers van hierdie orde het reeds uitgesterf. Die Mesosoïkum is bekend as die bloeitydperk van die reptiele, onder andere die Rhynchocephalia.

Veranderde vorme, die voorouers van die moderne reptiele, het die tydperk oorleef, maar byna al die ander het uitgesterf. Die brugakkedis is een van die min vorme wat vir ongeveer 200 miljoen jaar onveranderd gebly het. Ander soorte wat sedert die Mesosoïkum ook baie min verander het, is die krokodille en skilpaaie. Voorbeelde van ou vorme in die planteryk wat behoue gebly het, is Ginkgo biloba (familie Ginkgoaceae) en die varingpalms van die genus Cycas (familie Cycadaceae).

Hierdie twee families is al sedert die Karboon (340 miljoen jaar gelede) bekend en het in die Jura (190 miljoen jaar gelede) hul bloeitydperk bereik. Daarna het hulle begin uitsterf en vandag is nog net 'n paar spesies oor. Behalwe die bogenoemde lewende fossiele is daar nog heelwat organismes wat eintlik baie ou vorme is, maar wat vandag nog steeds in groot getalle voorkom en waarvan alle naverwante nie uitgesterf het nie. 'n Voorbeeld van so 'n groep is die kakkerlakke. Hierdie insekte het 350 miljoen jaar gelede reeds bestaan.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search